Wedstrydverslag – Garsies vs Waterkloof – 05 Junie 2016

89

Seker een van die donkerste dae vir Garsfontein rugby in hulle kort geskiedenis was die honderdtal waarmee die 1ste span verloor het teen Waterkloof in 2010. En tog kan mens glo dat uit daardie vernedering die saadjies geplant is vir die oplewing van rugby by Garsfontein wat die skool oor die afgelope 4 jaar as een van die top rugbyskole in die land gevestig het.

En die sirkel het gesluit gister met die Bere se 50-10 oorwinning oor Waterkloof, op Waterkloof, in die Beeld reeks.

Mens kan tereg opmerk dat, desnieteenstaande die omvang van die oorwinning, die Bere met ten minste 'n verdere 20 punte kon gewen het.

Die patroon vir die middag was al in die 4de minuut sigbaar met Adonis, die Bere se heelagter, wat van sy eie 22m lyn aangeval het na Kloof besit weggeskop het. De Leeuw het op linkelvleuel met 'n pragtige lopie die bal gedra tot op die Kloof 22m en twee losskrums later hol Eloff, die losskop van die Bere, die lengte van die kwartgebied om te gaan druk sonder dat 'n vinger op hom gelê word.

Die Garsfontein skrum was heeltyd onder druk gedurende die wedstryd en na die aanvanklike Garsfontein drie veg Kloof mooi terug, maar mis 'n maklike strafskop na 12 minute.

Garsfontein se linkervleuel druk in die 27ste minuut na 'n steekskoppie deur die heelagter, maar Waterkloof druk 'n mooi drie na Garsfontein nalaat om vanaf die afskop die bal skoon te maak, 'n skrum op hulle 22m afstaan waarvan Kloof se heelagter Gunter in die lyn inkom, 'n duikslag breek en langs die pale oorval. Die drie word nie verdoel nie.

Na die sirene vir halftyd kry Garsfontein 'n strafskop op die Waterkloof 10m naby aan die regterkant se kantlyn wat vinnig gevat word en na briljante samespel en hande tussen voor en agterspelers druk die Bere se regtervleuel Williams in die regter hoekie.

Die halftydtelling is 17-5 in Garsfontein se guns.

Die tweede helfte begin goed vir Waterkloof wat vroeg 'n skop afstorm in die Bere se kwartgebied en Kloof se hardwerkende agsteman Pretorius val oor vir 'n onverdoelde drie. Met die telling 17-10 was daar 'n glinstering van hoop vir die tuisspan, maar vier minute later druk die Bere se losskakel Davids na goeie aanvoorwerk deur Garsfontein se bulflank Pieterse en die haker Ferreira.

Dit was die begin van die einde vir Waterkloof met Garsfontein wat nog 4 onbeantwoorde driee druk in die laaste 14 minute van die wedstryd, 2 van hulle afkomstig van deurskoppe waar die blitsige Bere agterspelers eenvoudig by hulle teenstanders verby hardloop, die bal onder beheer bring en gaan druk

Vir Waterkloof is die skrum baie solied, die lynstane werk goed en hulle ding goed mee in die vaste los. Die heelagter Gunter en senter Du Plooy het mooi oomblikke met die bal in die hand.

Vir Garsfontein is die dinamiese baldraende bydraes van die haker Ferreira, vasskop Steinhobel, flank Pieterse en agsteman Fortuin, veral in die tweede helfte, die basis waarvan die agterlyn hulle blitsaanvalle loods. Om agter 'n speler uit te sonder sal onregverdig wees, en in ag geneem dat die eenheid sonder die Cravenweek heelagter Van Reenen en die SA /20 skrumskakel Papier moes speel kan mens met groot verwagting uitsien na die wedstryde later die seisoen wanneer die twee beskikbaar is.

Rainier Vermaak